
Versorging
Versorging poog om so effektief moontlik uit te reik na alle lidmate in die gemeente, veral in soverre dit fisiese en geestelike behoeftes aanbetref. Ons gee vir mekaar om, daarom is dit vir ons ‘n voorreg om in gelukkige en hartseer tye daar te kan wees vir mekaar. Ons wil God loof en prys in goeie tye en saam met jou bid in tye van hartseer, kommer en nood. Ons nooi ons gemeentelede om ons op hoogte te hou van hierdie hoogte-en laagtepunte in julle lewens.
Deur die onderlinge versorging van mekaar wil ons God verheerlik
Versorging aktiwiteite/aksies
Versorging van alle lidmate
Gonsers – Aktief vir Christus
Vrouebelange
Omgeegroepe
Versorging van lidmate
Versorging, verskaf “diens met deernis” en help sover moontlik om dinge makliker te maak. Mense se privaatheid word gerespekteer en hulle behoeftes en inligting met omsigtigheid, asook vertroulik, hanteer. Siekes en lidmate wat gehospitaliseer is, of geliefdes aan die dood afgestaan het, word besoek en ondersteun.
Ons is daar om die vreugdes en hartseer van die lewe met mekaar te deel
Ons wil graag weet indien jy of iemand waarvan jy weet siek is, hospitaal toe moet gaan of daar is, deur trauma gaan of iemand aan die dood afgestaan het. Onthou, alle inligting wat met ons gedeel word is hoogs vertroulik en wat ons met die gemeente deel in die afkondigings is met toestemming van die betrokke lidmate.
Gonsers – Aktief vir Christus

Ons Gemeente het ‘n besondere omgee hart vir ons senior lidmate en waar moontlik, wil ons ook deel wees van hulle lief en leed.
Die “Gonsers” groep bestaan uit senior lidmate (mans en dames) van NG Kerk Waterkloofrif wat gereeld bymekaar kom by die kerk. Hier kuier hulle heerlik saam en neem aan georganiseerde aktiwiteite deel. Kom skakel in!
Daar word deurgaans gefokus op die fisiese en geestelike versorging van ons senior lidmate.
“Wie ons is, word bepaal deur Wie s’n ons is!”
Die aktiwiteite sluit onder andere in:
• Lofprysing, een of twee keer per kwartaal.
• Weekliks, geestelike gesprekvoering rondom kwessies wat pla.
• Uitstappies, speletjies en koffie/tee/storie oggende, vorm deel van ons jaarprogram.
• Spesiale byeenkomste: Paasfees en Kersfees.
• Byeenkomste steun sterk op ‘n stelsel van georganiseerde byeenkomste, soos byvoorbeeld die Gebed vriende wat voorbidding vir mekaar en ander doen.
• Alle gemeentelede is welkom om by hierdie besonderse groep mans en dames in te skakel.
Vrouebelange
Vrouebelange is ‘n bediening waar vroue geïnspireer en bemagtig word om hul roeping en gawes, voluit, tot eer van God en tot opbou van die liggaam van Christus, uit te leef.
Deur unieke interaksie met die Woord en met mekaar, word vroue versorg, toegerus en begelei op die pad van geestelike groei sodat hulle dan weer betrokke kan raak by die dienslewering geleenthede wat ons vir hulle skep.
Daar word ook ruimte vir die uitlewing van vroue se eiesoortige behoeftes en belange geskep en bevorder.
Die ontwikkeling en benutting van vroue potensiaal en leierskap word weerspieël in die hoeveelheid vroue wat op die kerkraad en ander kommissies dien.
Vroue belange streef om alle aspekte van vrou-wees te bevorder. Dit sluit geestelike sowel as sosiale behoeftes in.
Ons verheerlik God deur ons saamwees, saamwerk en saamgroei
Sommige van die praktiese diensgeleenthede sluit in:
Reël van geestelike groeigeleenthede en sosiale verkeer.
Die organiseer van funksies en etes.
Hulp met Sondae se teebediening.
Hulp tydens basaars, funksies en fondsinsamelings.
Dien op komitees.
Dien op die kerkraad.
Ons poog om nie net binne ons gemeente te werk, maar ook buite waar ons van hulp kan wees.
Ons diens aan die gemeente is om nie nét vroue nie, maar ook ander lidmate in die gemeente saam te bind.
Kom skakel in!
Omgeegroepe
Daar is ‘n hele paar aktiewe Omgeegroepe in die gemeente, en dit is werklik groepe wat funksioneer volgens hulle naam – Omgeegroepe!
“Ons gee werklik om!”
Lede van die Omgeegroepe gee werklik vir mekaar om, en daar het ‘n band tussen die lede ontwikkel waarvoor ons die Here kan dank. Elke groep is uniek, party groepe kom elke week bymekaar, party kom elke tweede week bymekaar, en daar is ook groepe wat eenmaal per maand bymekaarkom. Die groepe wissel tussen vier en twaalf lede, en daar word meesal om die beurt in mekaar se huise vergader. In die winter is die bediening van ‘n bordjie sop nie ongewoon nie, en in die somer word daar soms ‘n vleisie op die kole gegooi, en dan word die werklike probleme opgelos! Daar word werklik gekuier, en die ondersteuning wat die lede vir mekaar het, is ongelooflik!
Die Leraar voorsien studiestukke wat deur die Groepleier behandel word. Die boek Romeine, Handelinge en Openbaring is al gedoen, en tans is die groepe met Dissipelskap besig. Dit word op dit so ‘n wyse hanteer, dat almal baie meer toegerus voel.
Behalwe die tradisionele Omgeegroepe, word ander groepe ook as Omgee- of belangegroepe beskou, soos byvoorbeeld die Koor, die Uitreikspan, Vrouebelange, Gonsers, Bybelbuddies, Tieners ens.
Dit is ongelooflik watter gees onder hierdie groepe heers, en dit bind die gemeentelede met nog ‘n band aanmekaar. Sommige van die groepe doen ook Sondae “Deurdiens” en tree as gasvrouens en -mans op by die bediening van tee en eetgoedjies na afloop van die erediens ens.
Ons dank die Here vir die wonderlike gesindheid wat Omgeegroepe in die gemeente inbring, en dit is ons bede dat die groepe sal uitbrei.
Kom gee jou naam op indien jy ‘n groep wil begin of wil inskakel!