NG Kerk Waterkloofrif - Uitreik
NG Kerk Waterkloofrif – Uitreik

Uitreik

Uitreik is ‘n top prioriteit van elke Christen en pas volkome in by NG Kerk Waterkloofrif se waardesisteem. As ‘n Gestuurde Gemeente poog ons om op te tree in opdrag van die Here. Om as gestuurdes van die Here nie ‘n gemeente ter wille van onsself te wees nie, maar ter wille van die Werke van die Here, in die gemeenskap/wêreld waarheen God ons stuur.

Om God te verheerlik deur Jesus in die wêreld te verteenwoordig

Uitreik aktiwiteite/aksies

Bybelverspreiding
Uitreik na anderstaliges binne die Gemeente
Munte vir Christus
PEN
Ouetehuis – Huis HJ Piek
Krisissentrum – Berg en Dal
Wespoort
Sending – Rusland
Die Khwe-San, Christen gemeenskap van Omega

Bybelverspreiding

Uitreik se fokus is hier op die verkondiging van die Woord van God deur middel van gesprekvoering en Bybel/Literatuur verspreiding.

NG Kerk Waterkloofrif - Uitreik, Bybelverspreiding
NG Kerk Waterkloofrif – Uitreik, Bybelverspreiding

NG Waterkloofrif Gemeente is betrokke by verskeie Bybelverspreiding aksies onder andere:

  • Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (Gemeente / Kerkraad).
  • Bybelverspreiding binne die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) Noord-Transvaal.
  • Bybelkiosk:
    • Die gemeente Monumentpark bedryf ‘n Bybelkiosk op Saterdae tussen 8-12, in die middestad van Pretoria, waarby die Uitreikspan van Waterkloofrif betrokke is.
  • Multi-taal Bybelverspreiding (Thami Dibi & Gerald Mokwena).
  • Bybelverspreiding onder die Evenki (Riko Viviers).
  • Bybelverspreiding onder die Khwe-San gemeenskap van Omega.

Deur die projek poog ons as ‘n Gemeente om die die volgende te bereik:

  • Om Bybels teen bekostigbare pryse aan behoeftige persone beskikbaar te stel.
  • Om, gekoppel aan Bybelverkope, evangeliese literatuur aan verbygangers, wat moontlik nie in ‘n kerk kom of kennis van Christus as Verlosser het nie, aan te bied.
  • Om, waar moontlik, die evangelie deur middel van gesprekke met mense wat belangstel, te deel.
  • Om Bybels en geskikte literatuur aan lidmate beskikbaar te stel vir verspreiding onder hulle werknemers.
  • Fondsinsameling om finansiële bydraes te maak vir aankoop van Bybels.
  • Om Gebedsondersteuning te verkry.
  • Om diensbeurte te lewer by die Bybelkiosk.

Uitreik na anderstaliges binne die Gemeente

Brugbou- en evangelisasie-aksie wat in 1997 van stapel gestuur is en wat onder andere die Jesus 2000 Projek gedoen het, word jaarliks in een of ander vorm voortgesit. Die projek is nou bekend as die URCSA Melodi ya Tshwane (VGK) Pretoria.

Daar word op die volgende aspekte gefokus:

  • Multi-taal* (*English, Sotho and Zulu) Eredienste, Sondae om 12:00, aangebied deur Gerald Mokwena.
  • Biduur en Bybelstudie vir tuin- en huishulpe.

Munte vir Christus

Dit is ‘n bussieprojek waardeur lidmate bydraes kan maak tot onder andere, Bybelverspreiding onder lede van die Multi-taal diens.

  • Bussies is in die voorportaal van die kerk beskikbaar.
  • Inbetaling van bydraes kan by die kerkkantoor gedoen word.

PEN

Pretoria Evangelisering en Nasorg (PEN) is ‘n aksie van die NG Kerk, gerig op die ondersteuning aan mense in een of ander vorm van nood.

PEN bedryf verskeie sosiale dienste wat insluit kinder- en tienerbediening, kleuterskole, huisvestingprojekte en die verskaffing van etes aan behoeftiges.
PEN bestuur ook die Tshwane Upliftment Forum wat skenkings soos byvoorbeeld klere, meubels en voedsel verkry, ontvang en dan weer aan mense in nood versprei.

Die betrokkenheid van NG Waterkloofrif by PEN word deurgaans bevorder deur op ‘n gereelde basis die gemeente in te lig oor die verskeidenheid van aksies en behoeftes wat bestaan by PEN se projekte.

Die gemeente word ook aangemoedig om deurgaans deur middel van fisiese hulp en gebed die aksies te ondersteun. Gemeentelede word aangemoedig om klere wat nie meer gedra word en ander items wat nog in ‘n redelik goeie werkende toestand is, te skenk aan PEN.


Ouetehuis – Huis HJ Piek

Huis HJ Piek, ‘n diensorganisasie van die Noordelike Sinode Kerklike Maatskaplike Diensteraad (SKDBM) het op 17 Oktober 2022 sy 52ste bestaansjaar gevier.

Die Tuiste is gedurende die laat sestiger jare van die vorige eeu deur die NG Kerk beplan en deur die Armesorg Utiliteitsmaatskappy (tans SKDB Maatskappy) opgerig.

Gelukkige inwoners en personeel is Huis Piek se grootste bate. Deur goeie bestuur, bekostigbare inwoning en professionele versorging is Huis Piek ʼn baken van hoop in Pretoria. Met die Noordelike Sinode as beskermheer en die Bybel as grondslag

Krisissentrum – Berg en Dal

Die “Red ‘n kind” projek spreek die behoeftes van behoeftige vrouens en ongebore babas aan weens onbeplande swangerskappe.

Ons Gemeente verleen algemene bystand en ondersteuning aan die sentrum. Ons het ook gereelde en deurlopende skakeling met die sentrum deur middel van ‘n gemeente verteenwoordiger.


Wespoort

NG Kerk Waterkloofrif - Wespoort versorging en voedinskema
NG Kerk Waterkloofrif – Wespoort

Die uitreik projek fokus op die ontwikkeling en ondersteuning van die gemeenskap in die westelike deel van Pretoria, onder andere Danville, Elandspoort, Daspoort en Kwaggasrand deur middel van die volgende aksies:

  • Voedselhulpskema
    • Ons ondersteun tans ongeveer 60 sorgbehoewende gesinne. Persone is werkloos, bejaard of gestremd. Ons voorsien ook hulp met kospakkies (maandeliks). Ons samel items in wat gemeentelede Sondagoggend in die houers/kratte in die kerk se voorportaal kan plaas. Hou gerus die weeklikse afkondigings/gemeentenuus dop om uit te vind watter items op daardie stadium hoog in aanvraag is.
  • Ontwikkelingsgroep
    • Persoonlikheidsontwikkeling en verryking van die groeplede, sowel as die aanleer van lewensvaardighede bv ouer-vaardighede, finansiële beplanning, voeding, higiëne, ens.
  • Naaldwerkgroepe
    • Groeplede skakel op Dinsdae by twee verskillendegroepe in nl. die maak van naaldwerk en kunsartikels wat by markte (Tierlantyntjie) verkoop kan word.  Die fondse word aangewend om kos mee aan te koop wat Vrydae aan gesinne uitgedeel word.
  • Klerebank
    • Tweedehandse klere word hoofsaaklik deur lidmate uit die gemeentes Lynnwood, Waterkloofrif en Monumentpark voorsien. Klere word baie goedkoop verkoop, en in verdienstelike gevalle gratis gelewer. Inkomste word gebruik om ook die voedselhulpskema te finansier.
  • Kleuterskole
    • Funksioneer van Maandag- tot Vrydagoggend. Kinders word gehelp om te sosialiseer, en om sekere lewensvaardighede aan te leer – tans 45 leerlinge. Die graad R-klassie word ook deur ons van benodigdhede voorsien (kombersies en kinderbybels is jaarliks ‘n belangrike projek). Skoolgereedheid is ‘n baie belangrike doelwit. Vrywilligers lewer hier ‘n onbaatsugtige diens.
  • Vrywilligers
    • Funksionering van projekte is afhanklik van die samewerking van vrywilligers uit verskillende gemeentes.
  • Pastorale betrokkenheid
    • Dinsdae word saam geopen deur die leraar. Vrydae maak die leraars van Wespoort beurte om Bybelstudie te hou en daarna vir een uur beskikbaar te wees vir pastorale gesprekke
  • Terapeutiese dienste
    • Antoinette Victor is die projekleier wat as ‘n Maatskaplike Werker terapie toepas waar moontlik, maar daar is ‘n behoefte aan spraakterapeute, opvoedkundige sielkundiges en arbeidsterapeute.
  • Befondsing
    • Daar is geen bydrae van die staat nie. Fondsinsameling is deel van die projek. Finansiële ondersteuning om sekere aksies te befonds is altyd ‘n behoefte. Ons is baie dankbaar vir lidmate wat maandelikse aftrekorders het ten bate van die projek.
    • ‘n Spesiale Wit-Olifantdag word deur die NG Gemeente Waterkloofrif gehou, met die oog op die insameling van tweedehandse meubels en allerlei goedere insluitende klere, wat te koop aangebied word.  Die opbrengs sowel as die goedere wat nie verkoop word nie, word aan Wespoort geskenk. Ou klere of enige ander items kan by die Kerkkantoor afgegee word.
    • Vrywilligers reël van tyd tot tyd geleenthede ten bate van die Wespoort fondsinsamelings aksie.

Uitreik Sending – Rusland

NG Kerk Waterkloofrif sendingwerk onder die Evenki in Rusland
NG Kerk Waterkloofrif – Evenki Sendingwerk

Riko Viviers is lidmaat van NG Waterkloofrig gemeente en doen sendingwerk onder die Evenki in Rusland. Vandag woon ongeveer 38 000 Evenki in klein dorpies of nomadiese tentkampe oor sewe miljoen vierkante kilometer van sentraal-Siberië tot by die Stille Oseaankus. Die Gemeente ondersteun die projek soos volg:

  • Deur geestelike en finansiële bystand te verleen.
  • Deur die bevordering van Bybelverspreiding en vertaling te ondersteun.
  • Om deur gebedsbediening hierdie aksies te bevorder.
  • Besoeke ter plaatse (Rusland) te ondersteun deur middel van;
    • algemene bystand en ondersteuning aan die sendingwerker;
    • die oordrag van kommunikasie;
    • die reël van programme tydens besoeke en
    • terugvoer aan die Gemeente.

Uitreik: Khwe-San, Christengemeenskap van Omega

NG Kerk Waterkloofrif sendingwerk Khwe-San, Christengemeenskap van Omega
NG Kerk Waterkloofrif – Sendingwerk, Khwe-San, Christengemeenskap van Omega

Die projek is ‘n organisasie sonder winsbejag met die fokus van ontwikkeling, op all vlakke, onder die Khwe-San mense in die Caprivi. Die Geestelike bedieningprogram sluit in die verkryging en die ontwikkeling van fasiliteite en die verskaffing van die volgende dienste:

  • Voorsiening van Bybels en Kategese materiaal.
  • Bystand met die bou van ‘n plek van aanbidding.
  • n Geestelike bedieningprogram in samewerking met die Omega Gemeente van Christus (OGvC), gedurende die jaarlikse uitreik na Wes Caprivi sluit in onder andere:
    • Die hou van eredienste met koorsang (Jeug OGvC).
    • Opvoering van Bybelverhale (Jeug OGvC).
  • Verspreiding van klere en skoene geskenk deur organisasies en lidmate.
  • Beskikbaarstelling van rekenaars en opleiding deur lidmate van OGvC.
Scroll to Top