Opbou
Die opbou van die liggaam van Christus sluit die begeleiding van alle lidmate op hulle geloofsreis en die effektiewe funksionering van die gemeente in.
Ons verheerlik God deur elke lidmaat op te bou om ‘n gestuurde na die wêreld te wees
Opbou help lidmate om te weet wat is hulle gawes en dat elkeen geroep is om as deel van die liggaam van Christus ‘n verskil in die omgewing waar hulle elke dag beweeg, te maak. Dit beteken nie net dat jy binne die gemeente in ‘n bediening betrokke is nie, maar ook by die werk, waar jy kuier, skoolgaan, student is of tussen jou gesin.
Opbou sluit in:
Gemeente-ontwikkeling
Geloofsgroei
Bou van verhoudings en gemeentegees
Gemeente-ontwikkeling
“Die regte mense, op die regte plekke, vir die regte redes”
Toerusting is ‘n voortdurende proses wat nodig is vir die geestelike groei van die gemeente. Die opleiding van lidmate is eintlik niks anders as begeleiding na en vir diens nie. Dit behels die volgende:
- Ontginning van elke lidmaat se gawepotensiaal
- Die fyn luister na waartoe God elkeen roep
- Die skep van geleenthede om dit in bedieninge te gebruik
Toerusting/kursusse sluit die volgende in:
- Opleiding van leiers, (Kerkraad, Bestuurspan,Omgeeleiers, Kategete ens)
- Inskakeling van nuwe lidmate
- Begeleiding van lidmate (gawes/evangelisasie-kursusse ens)
- Lewensverrykings-kursusse
- Strategiese beplanning en evaluering
Maak seker dat jy en jou gesin by een van die geleenthede inskakel. Dis ‘n heerlike ontdekking van jouself en opwindend om saam met mede-gelowiges jou geloofsreis ook op die manier aan te pak.
Hou gerus die almanak dop vir opleidingsgeleenthede en kursusse.
Geloofsgroei
Die Bybelstudie groep kom Woensdag oggende 9:00 bymekaar met die doel om geloofsgroei te bevorder, deur beter kennis van die Woord en gesprekke waar vrae gevra en beantwoord word.
Bou van verhoudings en gemeentegees
’n Heerlike laatnagkuier word jaarliks gehou om verhoudings en gees te bou. Ons speel speletjies wat elke ouerdomsgroep insluit: Volleyball; tafeltennis, pluimbal; springkasteel; lazer tag; bordspeletjies, bingo; veerpyltjies en vele meer. Daarmee saam maak ons heerlike potjies wat almal laat vingers aflek. Moenie hierdie lekker kuier misloop nie.