NG Kerk Waterkloofrif, Aanbidding
NG Kerk Waterkloofrif – Aanbidding

Aanbidding

Ons is ‘n Christelike gemeente wat gefokus is op die aanbidding van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, ‘n eenheid van drie mede-ewige Wesens. God is onsterflik, almagtig, alwetend, en bo alles, alomteenwoordig. Hy is perkeloos en bo menslike begrip, en tog bekend deur Sy selfopenbaring. Hy is ewig waardig om aanbid en gedien te word deur Sy ganse skepping!

Hier maak ons erns met die Woord van God

NG Kerk Waterkloofrif staan op die Skrif as die heilige en onfeilbare Woord van God, en die leer wat die kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely. Hierdie leer word uitgedruk in die Formuliere van Eenheid – die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en Dordtse leerreëls.

Fokusarea: Aanbidding

Eredienste

Ander dienste

Doop, huwelik en begrafnis/gedenkdienste

Multi-taal lofprysings en aanbidding dienste

Spesiale feesdae en dienste:

Sien Liturgiese jaar (Kerklike kalender)*


Eredienste

NG Kerk Waterkloofrif - Kerkgebou

NG Kerk Waterkloofrif
Leraar: Ds. Nicole Hamman-Forrest

Afrikaanse eredienste onder leiding van Ds. Nicole vind op Sondae en ander kerklike feesdae, tensy anders gekommunikeer, om 9:00 in die kerk plaas.

Moeite word gedoen om die liturgie gereeld af te wissel en te vernuwe. Dit dra daartoe by dat gemeentelede die eredienste en die byeenkomste van gelowiges op ‘n vernuwende en persoonlik wyse ervaar.

Almal is welkom

Die gebruik bestaan dat die leraar, lede van die kerkraad asook vrywilligers voor die erediens by die deure diens doen om gemeentelede te verwelkom. Dit word baie positief deur gemeentelede ervaar. Indien jy wil inskakel by die verwelkomingskomitee, kontak asseblief die kerkkantoor.

Na die erediens kuier gemeentelede en besoekers gesellig saam oor ‘n koppie tee of koffie om mekaar beter te leer asook om lekker saam te gesels en mekaar te ondersteun waar nodig.

Nuwe intrekkers/besoekers wat graag by ons gemeente wil aansluit, moet asseblief net die “Nuwe Lidmate” vorm aflaai, voltooi en e-pos na wkrif.ngk@gmail.com of persoonlik kom inhandig by die kerkkantoor.

Lofprysing

Lofprysing vorm deel van die erediens en berei die platvorm voor waar God met elkeen van ons in gesprek tree. Deur musiek en sang maak God ons harte oop om Hom duidelik tydens die erediens te hoor. Onder die entoesiastiese leiding van vrywillige gemeentelede is die lofprysing, voor en tydens eredienste, ook ‘n geestelike ervaring. Ons sanggroep/koor tree tydens spesiale dienste in die kerk op.


Ander dienste

NG Kerk Waterkloofrif Ander dienste Doop
NG Kerk Waterkloofrif -Ander dienste

Doop, huwelik en begrafnis/gedenkdienste

Kontak asseblief vir ds. Nicole direk vir dringende geestelike bystand asook om reëlings te tref met betrekking tot doop, huwelik en begrafnis/gedenkdienste.
‘n Handige begrafnis/gedenkdiens brosjure wat families kan help om seker te maak die dag verloop volgens plan is beskikbaar by die leraar of kerkkantoor.

Multi-taal lofprysings en aanbidding dienste

Multi-taal lofprysings en aanbidding dienste vorm deel van ons “Uitryk” fokus area en word op Sondae om 12:00 in die kerk aangebied. Hierdie dienste word goed ondersteun deur veral Sotho, Zulu en Engelssprekende kerkgangers.


Spesiale feesdae en dienste

Die Liturgiese jaar (kerklike kalender) vorm die raamwerk waarvolgens NG Waterkloofrif kerklike feeste vier. Hou gerus die weeklikse afkondigings dop vir meer inligting oor ander spesiale dienste, soos onder andere die jaarlikse Kerssangdiens, wat aangebied word.

Die Liturgiese jaar (kerklike kalender)

NG Kerk Waterkloofrif - Liturgiese Jaar 2023 ook bekend as Kerklike jaar of Kerklike seisoene
Liturgiese/KerkJaar 2023

Die Liturgiese jaar begin nie op 1 Januarie nie, maar op die eerste Sondag van Advent (gewoonlik laat November of vroeg Desember), en duur nie 365 dae nie, maar 52 of 53 volle weke. Die Sondag speel die primêre rol as die viering van die opstandingsdag van Christus en bepaal ook die ritme van die kerkjaar. Die res van die kerkjaar draai om die volgende drie feeste:

Kersfees
Paasfees
Pinksterfees

Van almal is Paasfees die hoogtepunt, want dan herdenk en vier Christene die opstanding van Christus uit die graf. Daar is vir elkeen van die drie feeste ’n tyd van voorbereiding en ná die fees ’n tyd van besinning.

  • Advent berei gelowiges voor vir Kersfees en in die tyd van Epifanie word nagedink oor die betekenis van Christus se koms na die aarde.
  • Lydenstyd is voorbereiding vir Paasnaweek en Paastyd ’n tyd van nadenke oor die implikasies van die opstanding.
  • Die tien dae tussen Hemelvaart en Pinkster berei gelowiges voor vir Pinksterfees en daarna volg Koninkrykstyd waarin Christene die opdrag het om die gawes van al drie die feeste te gaan uitleef in die wêreld.

Die 2023 Liturgiese jaar begin op 27 November 2022 en strek tot 2 Desember 2023. Die 2024 Liturgiese jaar begin op 3 Desember 2023.
Die Liturgiese/Kerklike jaar is opgedeel in spesifieke dae/tydperke/periodes/seisoene wat uitgebeeld word in verskillende kleure, elkeen met ‘n spesiale betekenis. (Lees meer hieroor in ons nuusblad/blog.)
Volg net die skakel hieronder om die volledige Liturgiese jaar/kerklike kalender af te laai.

Scroll to Top