NG Kerk Waterkloofrif

Basaar 2023

Wat ‘n pragtige geseënde dag! Ons kon nie vir beter gevra het nie. Ons het lekker saam gekuier, gesmul aan heerlike eetgoed en rondgesnuffel in die markie.

NG Kerk Waterkloofrif – Hou Basaar!

Min mense besef die opofferinge wat mark uitstallers maak om vir ‘n paar ure hulle produkte en ander harde hande werk met trots te kom uitstal. Soms verkoop hulle goed, ander dae gaan hulle moeg en moedeloos met ‘n leë sak weer huis toe. Aan al die uitstallers by ons Basaar, ons haal ons hoed vir julle af. Hou aan met die goeie werk wat julle doen. Dit word raakgesien, gerespekteer en gewaardeer. Mag God julle besighede ryklik seën.

Basaar uitstallers:

  • 670HARRY: Tupperware & “Soft Furnishings”
  • Be-lieve: Krale, eetgerei & engeltjies
  • Ernie Wilken: Neute & sade
  • Ietsie vir Almal: Keramiek beeldjies & speelgoed
  • Lazarious: Laser gegrafeerde geskenke
  • Marietjie McDonald: Konfyt & gehekelde serpe
  • Masozest: Heuning, Vloeibare seep Versorgingsroom, Gehekelde “shawls”
  • Renays Creations Boutique: Baba geskenk boksies
  • Samantha Wolson: Vars Eiers
  • So Whimsical Bows & Accessories: Haarstrikkies & bykomstighede
  • Spoilt Rotten Creations: Snuffel matte, balle vir troeteldiere, “Adopt-a-Plush Pet”
  • Succulents4u: Kunstige vetplantjies
NG Kerk Waterkloofrif sê dankie aan ons uitstallers
NG Kerk Waterkloofrif – Sê dankie aan mark uitstallers

Gemeentelede, sonder julle is ‘n Basaar nie moontlik nie!!! Baie dankie aan almal wat gehelp het met die voorbereiding; en wat hulp verleen het op die dag van die Basaar. Julle opoffering, vasbyt en harde werk word waardeer.

Basaar Tafels:

  • Koffie, tee & koek
  • Koeldrank, Lekkergoed
  • Koek en ander gebak
  • “Kies-en-Koop” Koekies
  • Vetkoek
  • Hamburgers
  • Kerrie & Rys
  • Poeding
  • Worsbroodjies
  • Pannekoek
  • Vars groente & vrugte
  • Wespoort handgemaakte items
  • Springkasteel

Dankie vir gebede, alle skenkings en lojale ondersteuning.

Ons hoop julle het almal die Basaar baie geniet! Tot volgende jaar….

Baie dankie - NGK Waterkloof Gemeentelede
NG Kerk Waterkloofrif – Sê dankie aan ons dierbare gemeentelede

#NGKerkWaterkloofrif#gestuurdegemeente#leefinvrede#basaar

Basaar 2023 Read More »

Basaar 2023

Ons hou weer Basaar, Saterdag, 26 Augustus ’23 om 09:00 met oorgenoeg eetgoed en “bederfies” vir oud en jonk! Gemeentelede word genooi om betrokke te raak by die reëlings en om te kom handjie bysit om van hierdie dag ‘n groot sukses te maak.

Almal (van naby of ver…) word hartlik genooi om te kom saamkuier!

Kom besoek gerus ons teetuin, kos-en handewerk tafels terwyl die kinders op die springkasteel baljaar.

Ons vat hierdie jaar hande met die gemeenskap en het privaat uitstallers genooi om hulle produkte in ons “Mini-Mark” te kom uitstal. Ons is baie opgewonde hieroor en kan nie wag om te sien waarmee hulle ons gaan kom verras nie.

PS: Uitstallers word genooi om unieke handgemaakte items/produkte te kom uitstal/verkoop by NGK Waterkloofrif (Pretoria) se Basaar.
Vir meer inligting, WhatApp – 0645075226.

#NGKerkWaterkloofrif#gestuurdegemeente#leefinvrede#basaar#uitstallers#minimark

NGK Waterkloofrif Basaar 2023

#NGKerkWaterkloofrif#gestuurdegemeente#leefinvrede#basaar#uitstallers#minimark

Basaar 2023 Read More »

NG Waterkloofrif – Stigting 39 jaar gelede

NG Waterkloofrif is 39 Jaar Jonk!

Vandag het ons as gemeente die 39ste bestaansjaar van NG Kerk Waterkloofrif gevier.

NG Waterkloofrif, Stigting, 39Jaar, Ontstaan, Verjaarsdag

Wat ‘n besondere voorreg was dit om die dag met sanger Piet Smit te kon deel. NG Waterkloofrif gemeente wil vir Piet en Elmarie Smit baie dankie sê vir hulle kuiertjie by ons kerk vanoggend. Piet die besonderse manier waarop jy God se boodskap van liefde vanoggend met ons gedeel het sal vir lank bly voortleef in ons harte. Baie, baie dankie!

NG Waterkloofrif, Stigting, 39Jaar, Ontstaan, Verjaarsdag, Piet Smit Sing

NG Waterkloofrif – Stigting 39 jaar gelede Read More »

Die Liturgiese Jaar – uitgebeeld

Die Kerk kalender het twee vaste punte. Die geboorte van die Jesus Christus (Kersfees), altyd op die 25ste Desember, en Paasfees. Die Kerkjaar begin met Advent.

Advent het altyd 4 Sondae, maar dit kan 3 of 4 weke wees. Die Adventsondag word bereken deur die vier Sondae voor 25 Desember te vind, selfs al is een van daardie Sondae Oukersaand.

Twaalf dae na Kersfees (25 Desember) is Epifanie (6 Januarie). Dit dui op die tyd tussen die geboorte van Jesus Christus en die koms van die drie wyse manne. Die Sondag naaste aan 6 Januarie kan as Epifanie-Sondag gevier word. Epifanie-Sondae word dan getel tot die Sondag voor Aswoensdag.

Lydenstyd het altyd 46 dae. 40 dae as die Sondae nie getel word nie. (wat ‘n Feesdag in Lydenstyd is). Dit word altyd bereken vanaf Paasfees.

In 325CE het die Raad van Nicea vasgestel dat Paasfees gehou sou word op die eerste Sondag nadat die eerste volmaan op of na die lente-ewening plaasgevind het. Paasfees kan so vroeg as 21 Maart of so laat as 10 Mei wees.

Paasfees bepaal hierdie datums:

Aswoensdag (47 dae voor Paasfees)

Hemelvaartdag (10 dae voor Pinkster Sondag)

Palmsondag (1 week voor Paassondag)

Pinkster of Pinkster Sondag (7 weke na Paassondag)

Die Paastyd het altyd sewe Sondae, plus Pinkster.

Pinksterdag eindig die vyftig dae seisoen van Paasfees (dit is wat die Griekse woord “Pinkster” beteken!) Dit begin nie ‘n “Pinkstertyd/seisoen” nie.

Daarna volg Koninkrykstyd. Die tydperk na Pinkster en voor Advent. Die eerste Sondag na Pinkstersondag staan bekend as Drie-eenheidsondag.

Koninkrykstyd is die tyd waarin op die werk van die kerk gefokus word. Die tydperk vloei voort uit Pinkster met die klem wat val op die verskillende maniere wat die Gees die kerk bemagtig om die koninkryk van God in die wêreld sigbaar te maak.

Daar word op verskillende aspekte van die werk van die kerk gefokus: barmhartigheid, evangelisasie, gemeenskapsontwikkeling en dienswerk.

Groen is die kleur wat gebruik word tydens Koninkrykstyd. Dit simboliseer groei en ontwikkeling en dui op die groei en uitbreiding van die Koninkryk.

Die Liturgiese Jaar – uitgebeeld Read More »

7 Dae – God se Skeppingswerke

In die Bybel is die getal 7 (sewe) ‘n belangrike getal. Dis wat ons in hierdie artikel wil uitbeeld.

God het in 6 dae orde geskep, Hy het tyd, ruimte en materie geskep. Hy het plek gemaak vir alles wat lewe en alles wat lewe (saad/bome, voëls, onder water en land diere en die mens) geskape.
God het nadat Hy alles voltooi het, op dag 7, gerus.

Die eerste hoofstuk in die Bybel is geskryf in die vorm van ‘n gedig en beskryf die skeppingsweke van God.
Die eerste vers in die Bybel is ‘n feit:

In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

Genesis 1:1

Met hierdie kernagtige eerste vers word die ontstaan van tyd, ruimte en materie op weergalose ekonomiese manier beskryf. Geen detail word verklap van die proses of selfs ‘n motivering daarvoor gegee nie, net maar die feit dát God die hemel en die aarde in die begin geskep het. Ons gaan nie dieper delf nie, daar is soveel wonderlike artikels beskikbaar wat ons maar net weereens laat besef dat ons God Almagtig is. Vir Hom is alles moontlik.

Bybelskool – Chris van Wyk

In Genesis 1:1-2:3 word die skepping in die vorm aan ons in drie dele opgedeel word:

Die begin van tyd, ruimte en materie – Genesis 1:1-2
Die skep van ‘n plek vir alles wat lewe in ses dae – Genesis 1:3-31
Die rus van God op die sewende dag na Hy alles voltooi het – Genesis 2:1-3

Die eerste skeppingsverhaal sluit af met die rus van God op die sewende dag ná al die werk wat Hy gedoen het. Hy kom egter nie net self tot rus nie, maar doen ‘n verstommende ding. Hy seën en heilig die sewende dag as gereelde rusdag. Hieruit sou die voorskrif in die wet spruit dat daar ‘n ritme tussen werk en rus in die lewe van die volk moet wees. Lees gerus meer hieroor in die artikel deur Chris van Wyk.

Bybelskool – Chris van Wyk

In Genesis 1:1-2:3 word die skepping in die vorm aan ons in drie dele opgedeel word:

Die begin van tyd, ruimte en materie – Genesis 1:1-2
Die skep van ‘n plek vir alles wat lewe in ses dae – Genesis 1:3-31
Die rus van God op die sewende dag na Hy alles voltooi het – Genesis 2:1-3

7 Dae – God se Skeppingswerke Read More »

Wêreldbiddag vir Vroue – Dankie

NG Kerk Waterkloofrif skop Maart af met “Wêreldbiddag vir Vroue”, wat op 3 Maart plaasgevind het.

Op hierdie biddag word dieselfde boodskap oorgedra deur ‘n tema wat regoor die wêreld deur almal gevolg word. Die tema van 2023 is deur Taiwan (onder leiding van die Internasionale Komitee) saamgestel.

Die boodskap: Efesiërs 1: 15-16
Die tema: “Kom ons bely en bevestig opnuut ons geloof in Christus.”
Hui-Wen HSAIO is verantwoordelik vir die pragtige kunswerk wat die tema so mooi ondersteun het.

Kunswerk betekenis

Die kunswerk beeld die volgende uit:

Vroue sit in stil gebed by ʼn stroompie en ten spyte van die onbekende, weet hulle hul Verlossing lê in Christus.

Groen gras en die skoenlapper- orgideë staan uit teen die donker agtergrond. Groen gras simboliseer die Taiwannese bevolking as eenvoudig, selfversekerd en sterk onder God se sorg.

Twee Bedreigde voëlspesies in Taiwan: die Mikado- Pheasant en Blackfaced Spoonbill word ook uitgebeeld.

Ons gemeente was uitgenooi om die biddag saam met Huis HJ Piek en sy inwoners te gaan  vier. Dit was ‘n lieflike oggend en Johanette de Bruin van ons gemeente het die biddag gelei en  ʼn besonderse boodskap gebring. Lydia, met haar pragtige stem het gesorg dat ons heerlik saamgesing het. Dames vanuit ons gemeente het stories voorgelees wat almal baie geniet het.

Dieselfde oggend het Ds Nicole, Waterkloof Marina se heel eerste “Wêreldbiddag vir Vroue” daar by hulle aangebied. Die biddag was baie goed bygewoon en ons is weereens opreg dankbaar vir almal se ondersteuning om ook van hierdie geleentheid ‘n sukses te maak.

Gaan loer gerus op Facebook, daar is pragtige fotos geplaas van die vieringe.

Wêreldbiddag vir Vroue – Dankie Read More »

Sondag Program

Sondag program

Ons Sondag program word ingelei deur ‘n vrywillige *saambid geleentheid vir almal wat ‘n behoefte daaraan het. Ons bid vir alles en almal rakende ons gemeente, ons stad, ons land, vir die persoon of saak wat op jou hart druk.

Kom beleef hoe die Gees van God met jou, in jou en deur jou werk

08:35 – Kom ons bid saam*
08:45 – Erediensreëlings: Konsistorie
09:00 – Erediens: Ds Nicole Hamman-Forrest
09:10 – Bybelbuddies** (kinderkerk en junior kategese)
09:10 – Tienergroep*** (senior kategese)
10:00 – Gemeente kuier (tee/koffie)
12:00 (of soos anders gereël) – Multi-taal lofprysing en aanbiddingsdienste / Multi-language praise and worship services (English, Sotho and Zulu)

*Almal wat ‘n behoefte het om saam te kom bid is welkom. Selfs tydens skoolvakansies en langnaweke kan daar informeel bymekaar gekom word om te bid. Ons bid vir alles en almal rakende ons gemeente, ons stad, ons land, vir die persoon of saak wat op jou hart druk.
**Bybelbuddies, voorskoolse en laerskoolkinders (tot gr 6), gaan saam met ouers na die erediens, en ná ongeveer 10 min kry hulle kans om na die voorportaal te gaan, na hul eie byeenkoms. Bybelbuddies verwys na die junior kategese. Gesluit tydens skoolvakansies en langnaweke.
***Tienergroep, (gr 7 tot 11), kom na die voorsang in die voorportaal bymekaar. Gesluit tydens skoolvakansies en langnaweke.

NG Kerk Waterkloofrif, Aanbidding
NG Kerk Waterkloofrif – Aanbidding

Die Belydenisklas kom Woensdae om 17:30 bymekaar.

Indien jy meer wil weet oor ons, blaai deur ons webtuiste en/of kontak ons gerus.

Sondag Program Read More »

Brief aan NG Waterkloofrif gemeente

NGK Waterkloofrif sê, Dankie!

Namens die Kerkraad wil ons elke lidmaat bedank vir julle getroue bydraes die afgelope finansiële jaar. Dit word opreg waardeer. Ons is bewus van lidmate wat die afgelope jaar finansiële uitdagings gehad het, en steeds die gemeente ondersteun het.

Dankie ook aan diegene wat hulle erediens- en deurkollektes inbetaal het. Dit het die gemeente in staat gestel om steeds voort te gaan met ons finansiële verpligtinge en bedieninge wat ons ondersteun.

Aangesien ons nie weet hoe lank die inperkings van die pandemie nog gaan voortduur nie, moet ons goeie finansiële beplanning toepas sodat die gemeente-aktiwiteite kan voortgaan.

Kyk asseblief mooi na julleself en bly veilig. Ons bid saam vir ‘n mooi jaar verder!
NGK Waterkloofrif, Kerkraad

Steundienste

Brief aan NG Waterkloofrif gemeente Read More »

NG Waterkloofrif Gemeente – Stigting

Ons onthou – NG Waterkloofrif se stigting

NG Waterkloofrif Gemeente is gestig op 11 Junie 1984. Die kerkraad is verkies en in hul ampte bevestig. Ds. Olivier en Ds. Munnik was die eerste predikante van die gemeente. Die gemeente vier vir die eerste keer Nagmaal op 26 Augustus 1984.

Die eerste gemeente geselligheid het op 21 September 1984 plaasgevind en die pragtige bedrag van  R1 000.00 opgelewer.

Die bou van ‘n kerkgebou was volgende op die agenda en op 15 Augustus 1987 vind die sooispit funksie plaas en op 12 Februarie 1988 vind die Hoeksteenlegging deur ds. Olivier plaas waarna die gemeente gesellig ‘n worsie braai.

Op 2 Julie 1988 word die nuwe kerkgebou van die Waterkloofrif Gemeente feestelik in gebruik geneem.

NG Waterkloofrif Gemeente – Stigting Read More »

Welkom

By NG Kerk Waterkloofrif is almal welkom

Al is daar biljoene mense op aarde, die Here sien jou raak. Jou behoeftes, jou nood en ook jou geluk! Jy is ontsettend kosbaar vir Hom daarom wil Hy ‘n pad met jou loop. In ons gemeente raak jy nie weg nie – elkeen is belangrik en elkeen word raakgesien.

Dit maak ons baie gelukkig om besoekers en nuwe lede by ons te verwelkom. Kom kuier by ons, word deel van ons geloofsfamilie.

NG Kerk Waterkloofrif, welkom
NG Kerk Waterkloofrif – Welkom

By NG Kerk Waterkloofrif kom ons as gelowige Christene saam om die drie-enige God (Vader, Seun en Heilige Gees) te aanbid, loof en te prys.

By NG Kerk Waterkloofrif maak ons erns met die Woord van God
NG Kerk Waterkloofrif – Ons is hier om God te verheerlik

Gereelde aktiwiteite vind plaas waar almal lekker saam kuier! Kom loer gerus gereeld in hier op ons webtuiste en volg ons op sosiale media. Ons sal uitnodigings en fotos daar vir jou plaas sodat jy op hoogte kan bly van byeenkomste en sosiale aktiwiteite.

NG Kerk waterkloofrif is 'n gesellige gemeente
Gereelde aktiwiteite waar almal lekker saam kuier

Nuwe lidmate is welkom om by ons in te skakel. Volg asseblief die skakel (of gaan na die “Dokumentasie” bladsy) om die nodige vorm af te laai en te voltooi. Die voltooide vorm kan per e-pos aangestuur of persoonlik ingedien word, by die kerkkantoor.

Die Leraar, kerkkantoor en koster se kontak besonderhede is beskikbaar op die “Kontak ons” bladsy van ons webtuiste. Maak gerus gebruik van die aanlyn epos vormpie as jy vining met ons kerkkantoor wil kontak maak.

Welkom Read More »

Scroll to Top